Home
Links
Contact
About us
Impressum
Site Map?


Afrikaans?
عربي
Bahasa Indones.
Deutsch
English
Français
Hausa/هَوُسَا
עברית
O‘zbek
Peul?
Português
Русский
தமிழ்
Türkçe
Yorùbá
中文



Home (Old)
Content (Old)


Indonesian (Old)
English (Old)
German (Old)
Russian (Old)

Home -- Afrikaans -- 09. Comparisons -- 4.02 Introduction To the Ten Commandments: God Reveals Himself
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic? -- Armenian? -- Azeri? -- Bulgarian? -- Cebuano? -- Chinese -- English -- Farsi? -- French -- German -- Gujarati? -- Hebrew -- Indonesian -- Norwegian? -- Polish? -- Russian -- Serbian? -- Spanish? -- Tamil -- Turkish? -- Uzbek -- Yiddish? -- Yoruba

Next part -- Next part

09. VERGELYKINGS TUSSEN ISLAM EN DIE CHRISTELIKE GELOOF
Vergelykings 4 - Die Tien Gebooie

4.02 - INLEIDING TOT DIE TIEN GEBOOIE: GOD OPENBAAR HOMSELF



Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. (Eksodus 20:2)

Die Tien Gebooie lê nie aan mense ‘n wettiese sisteem van reëls en komplekse dogma op nie. Dit is ook nie deur ‘n engel geopenbaar nie, maar God self spreek tot mense deur die gebooie. Die Skepper kom naby aan sy skepsels; die Heilige Een tot by sondige mense.


4.02.1. Die Persoon van God

Die eerste woord in die Tien Gebooie is “Ek”. Die Lewende God praat met ons as ‘n persoon, nie as ‘n vae gees of ‘n soort skrikwekkende donderslag wat in die verte gehoor word nie. Sy taal word maklik verstaan. Hy wil ‘n persoonlike en betroubare verhouding met ons bewerkstellig. Hy kommunikeer met ons volgens Sy genade, nie deur wet of gramskap nie. Wat ‘n voorreg is dit vir ons dat Hy tot ons nader in welwillendheid en liefde!

Die mens mag hardkoppig probeer om weg te draai van die Almagtige God en van Sy goedheid weghardloop. Tog sien die Heilige God ons waar ons ook al is. Ons is altyd in Sy teenwoordigheid. Dit is waarom elke wyse persoon moet reageer op Sy woorde. Die feit dat Hy sê “Ek” beteken dat ons verhoog word tot die vlak van “julle” en kan dus met Hom praat as wesens met ‘n identiteit.

Uit al hierdie is dit duidelik, bo alle twyfel, dat die ewige God, die Onderhouer van alles, die ewigdurende Regter – tot ons spreek as ‘n persoon. Daarom, laat ons aandagtig na Hom luister en Sy woorde met vreugde navolg.


4.02.2 - God se Bestaan

God openbaar Sy natuur aan ons wanneer Hy sê “Ek is”. Hoe kan mense dan aanvoer dat daar geen God is nie? Al die ateïstiese aansprake verkrummel uiteindelik voor die getuienis van God aangesien die “Ek is” die rede vir ons bestaan is. God bestaan! Alles anders vergaan, Hy alleen is ewig. Elke keer rebelleer die mens teen sy Skepper asof hy weerstand bied teen ‘n magtige berg. Die waarheid is egter nie gegrond in wat die mens oor God sê nie of wat wetenskaplikes oor Hom skryf nie. Hy is die Waarheid en Hy vul die heelal. Sommige mense het dit 3,000 jaar gelede ontken, in die tyd van Dawid, en aangevoer dat daar geen God is nie (Psalm 14). Die psalmdigter het hulle korrupte dwase genoem omdat hulle die werklikheid geignoreer het en die Een wat alles onderhou, misgekyk het. Ongelowiges het in hulle sonde geleef sonder enige gewete.

God se getuienis oor Homself weerlê die basis waarop die Boeddha se godsdienstige siening gebou is. Nirvana, wat leer oor die ontkenning van die self en om begeertes te elimineer tot op die punt waar die siel in die groot niks geabsorbeer kan word, is nie werklik nie. God wil hê dat mense sal leef. Hy leef en getuig “Ek is”. Die feit dat hy bestaan gee sin en betekenis aan ons lewens. Hy wil hê dat ons sal leef soos Hy leef. Sy doel is nie dat ons sal uitsterf nie.

God se getuienis ondermyn ook alle materialistiese dogma. Dit is die kortsigtige persoon wat die bestaan van die geestelike wêreld ontken. Inderdaad, hy is soos ‘n klip wat op die grond is, terwyl ‘n voël in die lug sweef. God leef en praat met ons. Hy praat selfs met die materialis, die ateïs en die kommunis, sodat elkeen hom na God mag draai en wys kan word. Indien enigeen weier om te luister en sy hart verhard, dan is hy soos ‘n blinde man wat aanvoer dat daar geen son is nie omdat hy dit nie kan sien nie.


4.02.3 - Wie is Jahweh?

God het vir Moses gesê, “Ek is die HERE”. “Ek is wie Ek is” is ‘n baie letterlike vertaling van die Hebreeuse teks in Eksodus 3:14. Dit is ‘n uitdrukking van God se werklike, ewigdurende, onvoorwaardelike en onafhanklike bestaan. God bestaan op ‘n wyse waarop niks en niemand anders doen nie. Hy verander nie en dit is die basis van ons geloof en die hoeksteen van ons redding. Met al ons beperkings en sondigheid, bly die onveranderlike God getrou aan ons. Ons is kan na Hom terugkom ter wille van Sy getrouheid. Selfs wanneer ons die einde van hierdie wêreld in die gesig staar, vertroos God ons: "Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie" (Matteus 24:35).

God, in sy albeskikking, sluit alles in: Hy is alwetend, alomteenwoordig en al-wys. As alle deure gesluit is, dan bied Hy ‘n uitkoms. Hy verstaan ons gevoelens en gedagtes. Hy wil nie hê dat ons voor sy voete in angs sal val nie. Hy skep eerder in ons ‘n sterk hoop en vertroue. Hy praat met ons sodat ons in vertroue ons oë na Hom kan oplig. Hy wil die Here van ons lewens wees. Mag niemand hul gesig van ons geduldige God verberg nie, want Hy wag vir ons antwoord! Wanneer iemand terugkeer na sy Skepper, dan reageer hy op Sy genadige liefde. Wanneer God sê, “Ek is die HERE”, dan stel Hy dit ook dat Hy die enigste Here is, daar is geen ander nie. Al die ander geeste en gode is vergeefs.

In ons huidige tyd, waar geeste en leerstellings van misterie in moderne godsdienste verander word, word die duiwelbesetenes bevry deur hul vertroue in die een ware God te plaas. Agnostisisme is vandag besig om af te neem en mense gaan oor na die ander ekstreem waar hulle vasgevang word in okkultiese praktyke en sodoende deur bose geeste gebind word. Hul propaganda is oral op die radio, televisie en in koerante.

In die Evangelies sê Jesus “Ek is” wat ‘n integrale uitdrukking van die Tien Gebooie is. Deur dit te sê het Jesus bevestig dat Hy die Here is, en die onderwerp van die engele se goeie nuus aan die veewagters in Bethlehem. Jesus gaan ‘n stap verder en sê, “Ek is die brood van die lewe,” “Ek is die lig van die wêreld,” “Ek is die deur,” “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” Jesus het ook gesê, “Ek is Koning” en “Ek is die begin en die einde.” Sedertdien het Sy volgelinge sonder huiwering bely, “Jesus is die HERE.” Hy verander nooit en red ons van alle sonde. Hy het Sy status en gesag bevestig toe Hy uit die dood opgestaan het. Sedertdien het die begin van die Tien Gebooie ‘n troostende stem, “Ek is die HERE.”

Moses het nie enige duidelike idee gehad van die inkarnasie van sy Here nie. Maar 1,350 jaar voor Jesus se geboorte het hy die basiese woorde van openbaring waarmee God homself geïdentifiseer het, ontvang: “Ek is die HERE jou God.”


4.02.4 - Wie is God?

In Hebreeus noem God Homself "Elohim", wat in Arabies vertaal word as "Allah". "Elohim" kan gelees word as "Eloh-im", terwyl Allah "Al-el-hu" is. "Al" is ‘n lidwoord wat “die” beteken. "El" is die oorspronklike naam vir God in die Semitiese kulture en beteken “mag”. Jesus het die essensiele betekenis van die naam “El” verkondig en dit bevestig toe Hy voor die hof getuig het, "Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God" (Matteus 26:64). Die woorde "-im" en "-hu" is agtervoegsels. Die Hebreeuse "-im" dui op die moontlikheid van meervoud, maar "-hu" in Arabies dui eksklusief op enkelvoud. Die eenheid van die Heilige Drie-Eenheid word sodoende van "Allah" geelimineer, terwyl "Elohim" toelaat vir die moontlikheid van ‘n Drie-Enige God.

Die ewige God is nie net Alwetend, Al-wys en Alomteenwoordig nie, maar ook Almagtig. Hy is die enigste mag in die wêreld wat deur sy kragtige Woord, die ganse heelal geskep het. Hy is geduldig met almal. Ons Here is nie ‘n destruktiewe, tiranniese God wat mense, soos Hy wil, lei of mislei nie (sien Soeras al-Fatir 35:8 en al-Muddathir 74:31). Inteendeel, ons God wil hê "dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom" (1 Timoteus 2:4).

In die Ou Testament is daar mense wie se name en die lande waar hulle vandaan kom, met die naam “El” geassosieer word. Hulle kinders is Samuel, Elia, Eliëser en Daniel genoem. Hul dorpe is Bethel, Jísreël en Israel benaam. Deur so te doen het hulle hul verbind tot die “mag” wat die ganse heelal beheer. In die Nuwe Testament was mense ook op unieke wyse aan God verbind wanneer Hy sy volgelinge belowe, "julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom" (Handelinge 1:8). God verwerp sondaars nie, maar reinig hulle, maak hulle heilig en leef in hulle.

Dit is aan ons Here Jesus Christus, die Almagtige, wat alle gesag in die hemel en op aarde gegee is. Atoombomme is niks in vergelyking met Sy ewigdurende mag nie; Sy outoriteit eindig nooit.


4.02.5 - Wie is God in Islam?

Die onderwerping aan die Almagtige lei Moslems tot die oproep "Allahu akbar", dit is, “Allah is groter!” Daarom dat die Moslem Allah beskou as “mooier” of meer “wys” as enige ander. In Islam word Allah sterk, groot en onbereikbaar verhewe bo sy onderdane. Niemand kan hom begryp nie; Allah is ver verhewe en onverstaanbaar. Alle gedagtes oor Hom is ontoereikend en foutief. Die mens, so word geredeneer, kan die Almagtige nooit bedink nie. Moslems kan Hom slegs vrees en aanbid en voor hom neerbuig.

Soefi’s het probeer om mensgemaakte brûe te bou om die groot maar onbereikbare Allah te nader, maar die Koran self laat nie enige pogings toe tot toenadering deur hul abstrakte Bedoeïenistiese redenasies nie.

In Islam bly Allah onsigbaar en het nie enige verbond met Moslems vasgestel nie. Mohammed word nie gesien as ‘n voorspraak tussen Allah en Moslems om hulle in ‘n Islamitiese verbond met Allah te bevestig nie. Hy beveel hulle om aan Allah onderdanig te wees, sonder enige voorwaardes of beperkings.

Moslems verstaan nie God se essensie nie. Die gevolg is dat hulle geen kennis van hul ware sonde het nie, ook beleef hulle nie Sy genade nie. Aanbidding in Islam is nie uit dankbaarheid vir hul Redder wat hulle van hul sonde gered het nie, ook nie lof vir die verlossing van oordeel nie. Dit is eerder ‘n bewondering van ‘n veraf, magtige Allah, soos slawe wat voor hul meester se voete val in vrees en twyfel. Moslems volg Mohammed omdat Islam ‘n verhoogde Allah daarstel wat vrees inboesem en hulle nooit heilig maak nie. Hulle dank nie ‘n Redder wat hulle red nie, want Islam het geen Redder nie. Geen wonder Moslems bly gebind aan formele, ritualistiese aanbidding nie!

Die ware God wat Homself in die Bybel openbaar, het egter nie ver van Sy skepping gebly nie. Hy het naby aan ons gekom en ‘n verbond met ons, as kinders van Adam, gesluit wanneer hy sê, “Ek is die HERE jou God.”


4.02.6 - Die Verbond met God

Die voornaamwoord “jou” in “jou God” is besitlik. Dit beteken dat God toelaat dat ons Hom besit. Ons kan Hom vertrou soos ‘n kind sy pa vertrou. Die Almagtige God buig neer tot ons ten spyte van ons rebellie, asof Hy wil sê, “Ek is joune. Sal jy nie tot inkeer kom en na my terugkeer en jouself vir altyd alleenlik aan my oorgee nie?”

Hierdie is die goeie nuus, dat die Tien Gebooie begin met ‘n verbond tussen God en mense. Dis ‘n verbond wat God alleen aan Sy volk bied en daardeur bevestig Hy Sy teenwoordigheid en liefde vir die mens. Hy verwag dat ons sal reageer op Sy alomteenwoordige bestaan met geloof, hoop en liefde.

In Sy verbond met sondaars verseker God hulle van Sy vergifnis, verlossing, beskerming en seën. "As God vír ons is, wie kan teen ons wees?" (Romeine 8:31). Hy bemoedig ons deur te bevestig dat Hy altyd by ons is en deur ons swakheid werk. Die mens se sonde keer nie God se getrouheid nie. Daar is geen twyfel dat God elke sonde, hoe gering ook al, oordeel nie. Sy perfekte geregtigheid maak dit nodig om alle sonde te veroordeel, maar deur Sy ewige liefde in Christus reinig Hy almal van sonde wat tot ‘n verbond met Hom tree. Deur in ons plek te sterf het Christus die waarborg gebied dat hierdie Goddelike verbond in werking getree het. Die kruis is sedertdien die teken vir die voortgang van Sy genade.


4.02.7 - God ons Vader

Die mens se skeiding van God was beëindig met die geboorte van Christus. God het as mens verskyn sodat sy volgelinge nie langer slawe sou wees nie want Jesus het hulle bevry van die gevangeneskap van sonde, die bindinge van die duiwel, van die dood en selfs van die oordeel van God. Die bloed van Jesus is as voldoening vir ons verlossing gestort. Wie in Christus glo sal gereinig word en aangeneem word as seuns en dogters van God. Deur Christus het die Almagtige God ons Vader geword, wetlik en geestelik. Hy verseker ons dat selfs al pleeg ons ‘n ernstige sonde, “Ek is die Here, jou Vader.”

God, die Vader van ons Here Jesus Christus, skenk die krag van die Heilige Gees aan elkeen wat die gekruisigde en opgestane Jesus liefhet en Hom volg. Weergebore gelowiges in Jesus vertoon die lewe en aard van hul hemelse Vader. Hulle is nie langer onder die juk van wanhoop en in die greep van geestelike dood nie. In Christus het die heilige God Homself aan ons verbind. Hy het ons Sy tempel gemaak, ‘n blyplek vir Homself. Hy is ons Vader en ons is Sy kinders. Ons behoort aan Hom en Hy behoort aan ons. Hierdie nuwe verbond is vervul kragtens die plaasvervangende dood van Christus vir ons. Sedertdien beleef elke gelowige in Christus persoonlike kontak met God. Wanneer ons bid, roep ons nie in die leegte in nie. Gebed is eerder soos ‘n telefoonoproep na God, vol dankbetuiging, sondebelydenis, versoeke en voorbidding. Ons hemelse Vader luister getrou na ons. In sy Vaderskap vind ons toevlug. Hy omgewe en beskerm ons met Sy geregtigheid. Anders as vir Moslems is ware Christene nie ver van hulle God nie. Hulle aanbid nie ‘n panteon van gode soos die Hindoes nie en wag ook nie vir die ontsagwekkend niks soos Boeddhiste doen nie.

Die Almagtige God het Homself tot die volgelinge van Christus verbind op grond van Sy liefde sodat hulle in Sy teenwoordigheid mag leef en na Sy beeld verander mag word. Ons hemelse Vader wou ons nie in ‘n hopelose kondisie los nie, maar het besluit om ons te red en ons te vernuwe. Hy het ons uitgedaag, "So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is" (Levitikus 11:45). Gemeenskap met God beteken nie net ‘n verstandelike geloof nie, maar lei tot radikale morele verandering. As ons saam met God leef sal ons essensiele aard verander word omdat die ewige God besluit het om Sy kinders na Sy standaard op te hef. Ons Vader wil hê ons moet soos Hy wees, soos Jesus dit gestel het, "Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is" (Matteus 5:48). Die Tien Gebooie is ‘n fase in die proses om verander te word van verlore mense na kinders van God. Om die waarheid te sê, dit is die skeidsmuur op grond van Sy genade wat ons verhoed om weg te val.

Miskien het jy al gevoel dat dit onmoontlik is om Christus se gebooie na te kom. Hoe kan ons perfek wees soos wat God perfek is? Is hierdie aanspraak nie ‘n herhaling van die versoeking van Eva in die paradys toe sy Satan hoor sê het, "Julle sal soos God wees" nie? Die mens kan homself nie red nie, ook kan hy nie geregverdig word deur sy eie pogings nie. Alle selfgeregtigheid is gebou op wette wat tot rebellie en uiteindelik tot oordeel lei. Ons ware heiligmaking is die goeie werk van ons hemelse Vader in ons. Hy lei ons op die pad van Sy geregtigheid. Hy roep ons elke dag om onsself te verloën en skenk aan ons gees ‘n ewige krag om die boosheid in ons te oorkom. Hy spoor ons aan om Sy Woord te lees en daarvolgens op te tree. Hy gee ons Sy liefde wat selfsug in diens verander. Die geestelike gawes van ons Vader is so duidelik dat self Mohammed dit erken het en die volgelinge van Christus beskryf het as spesiale mense wat nie “hoogmoedig” is nie, “wat in hul harte medelye en genade ontvang het” (Soeras al-Maida 5:82 en al-Hadid 57:22).


4.02.8 - Redding volbring God wil ons vry maak van die gevangeneskap van sonde. Met Sy tweede stelling in die inleiding tot die Tien Gebooie, sê God dat ons onsself nie kan vrymaak nie. Dit is God wat dit sal doen deur ons gehoorsaamheid in geloof. God het Sy volk deur Moses verlos van bitter slawerny en ‘n Goddelike verbond met hulle gesluit. Hy het hulle nie aanvaar omdat hulle geregtige mense was nie, maar hulle deur sy genade gekies. Hy het verklaar, "Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het."

Die seuns van Jakob het 3,600 jaar gelede van die klipperige dor westelike gebergtes van die Jordaanvallei geëmigreer toe droogte hul gebied verwoes het. Hulle is deur honger na die vrugbare Nylvallei gedryf, 300 kilometers ver van hulle tuiste en het daar ‘n makliker lewe geleef. Elke jaar het die Nyl oor sy walle gestoot en die land gevoed. Die kinders van Jakob het vinnig vermeerder en ‘n ernstige bedreiging vir die mense van Egipte begin word. Die Farao’s het die uitheemse Hebreërs tot slawe gemaak en hulle meedoënloos uitgebuit. Sommige van hulle het die God van hulle vaders onthou en in hulle slawerny na Hom uitgeroep vir hulp. Hulle het hulle God in die goeie tye vergeet, maar armoede en behoeftigheid het hulle teruggebring na hul Skepper en Verlosser. God het na hul hulpkrete geluister en vir Moses gestuur, Sy dienaar wat Hy voorberei het in die Farao se paleis asook in die wildernis om sy roeping te vervul. Die Here het aan Moses in ‘n brandende bos verskyn, hoewel die vuur die bos nie verteer het nie. God openbaar Homself aan Moses as “Ek is”, wat beteken, “Ek is wat ek is. Ek verander nie, maar bly getrou aan jou.” Daarom, "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (Jeremia 29:13).

Die Here het Moses na die groot Farao (wat as ‘n Egiptiese god beskou is) gestuur om hom te vra om die Hebreeuse slawewerkers vry te laat. Die heerser van die Nylvallei wou egter nie sy goedkoop arbeid vrylaat nie. Hy het sy hart al meer verhard. Die Farao was nie gereed om die seuns van Abraham vry te laat totdat die Here hom gedwing het om so te doen deur toenemende plae en rampe nie. Hulle is uiteindelik uit slawerny in Egipte verlos, nie weens hulle geregtigheid nie, maar slegs deur hul gehoorsaamheid in geloof. Hulle het nie wapens gehad nie en het in die nag deur die woestyn gevlug onder die beskermende bloed van die Pasga-lam wat vir hulle geslag is. Een lam is vir elke familie geoffer, waarvan hulle geëet het en toe in God se krag gevlug het. Die kruising van die Rooi See en die ondergang van die vyand wat hulle agterna gesit het, was die finale bewys van hul verlossing. Vandag kan ons die mummie van die verdrinkte Farao sien, met alge van die Rooi See in sy longe, in ‘n Egiptiese museum in Kaïro.

Moslems skryf die oorwinning oor hul vyand toe aan God se ingryping in veldslae. Mohammed het oorwinning gekry oor die handelaars van Mekka in die slag van Badr, nie omdat God wonderbaarlik ingegryp het nie, maar weens hulle gewapende mag. Sy volgelinge het alles wat hulle het opgeoffer; geen wonder hulle kon hul vyande verslaan nie! Wat Moses geïdentifiseer het as ‘n wonderbaarlike en Goddelike verlossing (met geen druppel bloed gestort nie), is in Islam slegs bekend as ‘n heilige oorlog (djihad) waarin almal verplig is om deel te neem. Die geregtige reël in Islam is, “Julle het hulle nie doodgemaak nie, maar Allah het hulle doodgemaak. Dit was nie julle wat gegooi het [die pyl] as julle gegooi het nie, maar Allah het gegooi” (Soera al-Anfal 8:17).

Nadat die Here die kinders van Israel wonderbaarlik bevry het van slawerny in Egipte, het hy hulle in die versengende hitte van die droë woestyn ingelei en vir hulle ‘n fees voorberei. Hy wou ‘n Goddelike verbond met hulle finaliseer sodat hulle heilig kon word in hul gemeenskap met Hom. Hy het hulle geroep om ‘n priesterlike nasie te wees wat Hom moes dien. Hulle moes ‘n bediening van versoening wees vir alle mense. Die Tien Gebooie was die hart van die boek van die verbond en die goue reël vir gemeenskap met hul God. God was op sy troon, verhewe bo die twee tablette van Sy wet wat in die verbondsark gehou is.


4.02.9 - Redding in die Nuwe Testament en die Doel van die Tien Gebooie

As ons oor die wonderlike oorwinning nadink wat God 3,300 jaar gelede aan die kinders van Jakob geskenk het en dit vergelyk met die verlossing wat Jesus bewerkstellig het in die nuwe verbond, dan kan ons die begin van die Tien Gebooie soos volg opsom: "Ek is die Here jou God en Vader; Ek het jou vir ewig gered."

Sedert Jesus ons wêreld binne gekom het en die sonde van elke mens aan die kruis gedra het, vir ons gesterf het as die Lam van God, verkondig ons die genade van God aan alle nasies en preek ons Jesus as Here en Verlosser vir alle mense. Jesus het die kettings van sonde gebreek en die gesag van Satan oorwin deur Sy lyding en dood aan die kruis. Hy het die toorn van God geblus en die oordeel ter wille van ons gedra. Ons finale verlossing is slegs deur Christus volbring. Dit is waarom ons aan Hom dankbaar is en redding deur geloof ontvang.

God se verlossing is vir elke mens voorberei. Ons is op ‘n unieke manier gered waar geen wapenrusting betrokke was nie. Dis waar dat bloed gespil was, maar nie die bloed van ‘n verslane vyand nie, maar die bloed van die enigste Seun van God wat Homself vir ons opgeoffer het.

Ons het onsself nie gered deur die Tien Gebooie te onderhou nie; dit is nie die doel daarvan nie. Die Tien Gebooie leer ons as verlostes eerder hoe ons dank kan betuig vir verlossing wat ons gratis ontvang het. Wie dink dat hy homself kan red van sonde, van Satan en die dood en van God se oordeel deur hul eie menslike pogings, vergis hulself heeltemal. Inderwaarheid raak hulle sodoende net meer en meer verstrengel in hul sonde. Die Tien Gebooie kan ons nie na ons eie heiligmaking lei nie. Dit lei ons egter wel na bekering en na gehoorsaamheid in geloof, ‘n verheuging in die verlossing wat vir ons volbring is. Ons kan die doel van die Mosaïese wet vervul wanneer ons eer betuig aan die hemelse Vader saam met Jesus in die krag van die Heilige Gees. God wil ons nie veroordeel of vervloek of die Tien Gebooie ‘n swaar las vir ons maak nie! Beslis nie! Ons Here het ons verlossing lank reeds beplan, nog voor die openbaring van die Wet. Hy het Sy wet gegee om mense deur Sy Heilige Gees tot bekering te lei en hul rebellie in onderdanigheid te verander. Die doel van die Wet is dus nie vir ons vernietiging by die finale oordeel nie, maar vir ons gemeenskap met God die Vader.

Ons sou die Tien Gebooie beter verstaan het as ons slawe was. As slawe sou ons gewerk het ongeag ons siek of gesond, oud of jonk was. Ons sou gedwing gewees het om onder ondraaglike toestande te werk. Ons sou bloot ‘n nommer wees en niemand sou vir ons omgegee het nie.

God het mense vrygestel van ellendigheid en pyn. Vir hierdie rede beskou ons die Tien Gebooie as ‘n gids wat die bevryde Christene lei en leer om verstandig op te tree in hul vryheid. Daar is baie versoekings wat in vryheid skuil hou. As ons sonder God leef dan word ons gou die slawe van ons inherente neigings en sonde. God het die mens egter na Sy beeld geskape en sonder God kan die mens nie ‘n geregverdigde lewe leef nie. Daar is geen volmaakte vryheid sonder God nie.

As die mens in sonde leef, dan is hy ‘n slaaf van die sonde. Dwelms, sensuele begeertes, diefstal, luiheid, verkragting en kwaadwilligheid word ‘n tronk. Sommige mense is vasgevang in die invloed van alkohol, rook, dwelmverslawing en gewoonte-leuens asook dinge soos waarsêery en bose geeste. Satan beïnvloed hul gedagtes, maar Jesus stel enigiemand vry wat in Hom glo; Hy bevry hulle tot die heilige vryheid van God se kinders. Christus is die werklike Oorwinnaar, die reddende Here, die wyse Dokter, die goeie Herder en die getroue Vriend. Almal wat na hom toe kom sal hulp en raad ontvang.

Die Tien Gebooie bied beskerming vir almal wat deur genade bevry is. God het hul Vader geword, Christus hul Verlosser, en die Heilige Gees hul Vertrooster. Hulle verstaan dat God die Vader, Seun en Heilige Gees een God is. Hulle het werklike bevryding met dankbaarheid en vrede in Hom ervaar. Geen wonder die Tien Gebooie het ‘n teken vir hulle geword van God se leiding nie, wat in hulle liedere van lof voortgebring het (Psalm 119:54).

www.Grace-and-Truth.net

Page last modified on October 10, 2013, at 10:43 AM | powered by PmWiki (pmwiki-2.2.109)